Robertson Brokkies

By elke maandelikse byeenkoms word ‘n voorlesing gedoen oor ‘n brokkie geskiedenis van Robertson of uit die onmiddelike omgewing. Ons hoop dit sal besoekers ‘n kykie gee in wat alles op die dorp gebeur het sodat dit nie vergete sal raak nie. Mense kom en gaan en mense maak geskiedenis en hul nalatenskap is kosbaar en moet bewaar word. Klik op enige balkie hieronder om die beskrywing te lees.

Die Groot Koors van 1860

Die Groot Koors van 1860

Deur Mnr. I. de V. Malherbe

Een Vrydagmiddag teen die einde van Oktober 1860 het ’n sekere Mej. Maria Erasmus van Agterkliphoogte dorp toe gekom om die godsdiensoefeninge van die Sondag by te woon. As sy daardie dag tuis gebly het, sou dit nooit nodig gewees het om hierdie treurige geskiedenis te vertel nie.

Die Saterdagaand het sy by haar verloofde gekla dat sy nie wel voel nie en Sondagoggend was sy sommer regtig siek, maar ten spyte van haar ouers se waarskuwings, gaan sy tog saam met haar verloofde kerk toe. Toe oubaas Erasmus die volgende dag vir die jongman laat weet dat Maria masels het en plat lê, was dié ook al in die bed en binne veertien dae het die masels feitlik deur die hele dorp en distrik versprei. Dit was bereken dat Maria Erasmus die môre in die kerk ongeveer sewentig mense aangesteek het.

Masels is gelukkig nie ’n baie gevaarlike siekte nie en die mense het gelag vir die gedagte om ’n dokter daaroor te raadpleeg. Ons boermense het mos vir alles ’n raad en vir masels is daar niks wat by bokmis kom nie. In Dassieshoek was daar ’n ou aia wat ’n deskundige in die bereiding van die bokmis middel was en sy is van huis tot huis gestuur om dit vir die siekes toe te dien.

Maar toe breek daar koors uit en die mense, reeds verswak deur die masels, begin sterf. Die rede vir die koorsepidemie was nie vêr te soek nie; die kraal waaruit die bokmis gehaal was, was met die dodelike kieme besmet. Dit word vertel dat ou Dr. Hanf, ’n Duitser, die eerste dokter op Robertson, gesê het “ Julle kryg die koors van die goed wat julle vir die masels gesuip het.”

Om die saak nog te vererger was die somer van 1860-1861 besonder droog en die mense nie juis gesteld op ontsmettingsmiddels nie, met die gevolg dat die plaasvolk ook aansteek en die koors in die distrik versprei. In Klaasvoogds waar net vyf families gewoon het, is daar tien persone dood. Op Robertson het drie-en-twintig families gewoon en hoewel die families van daardie dae baie groter is as dié van vandag, is ag-en-vyftig sterfgevalle ’n baie hoë persentasie. Onder die geledere van die gekleurdes wat minder sindelik geleef het, het die pes verwoesting versprei en hulle feitlik by die honderde afgemaai. Ou Mev. Van Eeden vertel (en ons glo haar redelik) dat dit baie erger was as die griepepidemie van 1918.

Armoede en honger het nou die nuwe gemeente bedreig. Die magistraat het ’n beroep op die Regering gedoen om hulp te verleen en ’n paar persone is gestuur om sop te kook en dit elke dag by die kantoor uit te deel. Van Over Hex het die Du Toits twee wavragte kos en ander lewensmiddele gestuur, toe by die sustergemeente, Worcester, ook om hulp aangeklop is.

Ds. De Smidt, die eerste leraar, het nag en dag gewerk met die gevolg dat toe hy ook die koors kry, hy geen weerstandsvermoë meer besit nie en ook beswyk. Hy was die laaste om aan te steek en die laaste om te sterf. Toe hy begin siek word, is hy vir verpleging deur Dr. Robertson na Montagu gestuur, waar hy op 21 Januarie 1861 sy laaste asem uitgeblaas het.

Murmurering en ontevredenheid was die onvermydelike gevolg van die armoede en ellende en reg of verkeerd, het oubaas Erasmus al die skuld van die “Groot Koors” soos die oumense dit genoem het, moes dra.

Wat die oorsaak was dat die liefde tussen Maria Erasmus en haar jongman vertroebel het en of hulle stry gekry het omdat sy hom met masels (met koors as gevolg) aangesteek het, kan nie gesê word nie, maar een ding is seker, hulle twee het nooit met mekaar getrou nie. Die verliefde jongman van sewentig jaar gelede, het vir hom ’n vrou uit ’n ander vooraanstaande familie in Robertson gekies en Maria het vir jare stil op die boerplaas, Agterkliphoogte bly woon totdat ’n wewenaar uit Caledon haar kom weghaal het.


Die kloktoring van die NG Moedergemeente

Die statige kloktoring op die terrein het ook ’n stukkie geskiedenis om te vertel. Volgens AH Tromp in sy boek ‘Robertson 1853-1953’ is dit die oorspronklike klok wat in die 1850s deur die firma Barry en Neefs aan die oorspronklike kerk geskenk is. Na die voltooiing van die huidige kerkgebou is dit in die houttoring gehang. Die koster van die laat 1960s wou waarskynlik seker maak dat almal op Sondae die klokgelui sou hoor en het dit so woes geruk en gepluk dat die houttoring gedreig het om inmekaar te stort. Mnr. Niko Loubser, inwoner en boer van die omgewing se vader, mnr. Johannes Loubser, was bevrees vir die koster se lewe. Met ’n massa van ongeveer 230 kg het die klok ’n ernstige bedreiging vir die koster ingehou.

Mnr. Loubser het toe die huidige kloktoring ontwerp en in 1972 is die toring gebou – ’n sieraad op die terrein.


Goudmyn Skool

Die eerste "skooltjie" op Goudmyn was in 'n kamer aan 'n gebou op die walle van die Breederivier. Volgens die oudste toelatings register in ons besit was daar reeds in 1908 ses en twintig leerlinge ingeskryf by die skool. Buite op die muur van die huidige gebou staan 1909.

Die eerste ingeskrewe leerling (in ons besit) is die van Mathilda Roux, gebore 17 Mei 1869. Die oudste lewende oud skolier is Mev. Lena Lourens néé Zeeman. Sy is gebore op 12 Julie 1919 en is woonagtig op Swellendam. Die vroegste geboorte datum in bogenoemde register ingeskryf, is die van Hendrik van Greunen, gebore 1891 en is op die ouderdom van 17 jaar en 2 maande as 'n sub A leerling toegelaat.

Die grond waarop die skoolgebou gebou is, het destyds aan Mnr. Chris Viljoen behoort. Gedurende 1938 het die Departement van Onderwys nie kans gesien om die skool en terrein by Mnr. Viljoen te koop nie. Die gemeenskap van Goudmyn het besluit om dit self te koop. Na die dood van Mnr. Viljoen se Vader het die grond en gebou hom toegeval en wou hy die skool en terrein verkoop. Die koopsom was £400. Die gekoopte gebou moes vergroot en verander word en aangesien dit moeilike jare was en daar nog aan die depressie gewurg is, is £500 geleen by ene Mnr. Tinie Hamman van Robertson teen 5% rente. Donasies het gekom van die Goudmyn gemeenskap by wyse van vervoer van boumateriaal vanaf Klaasvoogds Stasie. Die hout boumateriaal is by Thesen Ltd., Knysna, aangekoop vir £119.18. Na voltooiing van die skool gebou het dit bekend gestaan as die Goudmyn Saamtrek Saal. Die gebou moes ook 'n voog hê en daar is besluit op die N.G.Kerk Robertson aangesien daardie deel van Goudmyn destyds by daardie gemeente ingedeel was. Met die afstigting van die N.G.Gemeente van Ashton in 1949, is die Kaart en Transport oorgedra na Ashton.

Oor die jare heen is slegs dames op die personeel aangestel. Die eerste onderwyseresse was Mejj. Burger en Lambrechts. Eenmaal is toevallig 'n gegradueerde man aangestel, maar hy was 'n teleurstelling en hulle moes hom vra om te gaan omdat hy Saterdae hoogs plesierig met sy kitaar in die pad loop en sing het. Van die talle onderwyseresse, het twee dames daar afgetree. Hulle was bekend as Miss Kriel en Miss Marais - Miss Kriel was van Montagu en Miss Marais van Goedemoed, Klaasvoogds. Miss Marais het lank met 'n een-perd karretjie van Klaasvoogds af skool toe gery. Miss Kriel het by die Rabies op Rouxvale loseer. Sy het vir haar 'n 1938 model "two-seater" Chef motor kar gekoop. Vir die kinders was dit iets baie snaaks toe Miss Kriel die eerste keer by die skool opdaag met haar motor. Ongelukkig vir albei onderwyseresse het Miss Kriel dan ook die eerste dag albei Miss Marais se perde kar se disselbome afgery! Miss Kriel tree af in 1948 en in Oktober 1954 plant die Vroue Werkgeselskap van Goudmyn ’n dadelpalm by die skool, geskenk deur Mev. Jean Retief, ter aandenking van Miss Kriel wat oorlede is. Na Miss Kriel se aftrede in 1948 word die pos per abuis weer geadverteer vir ’n manlike persoon. In 1949 word die eerste manlike Hoof by die Goudmyn Laerskool aangestel in die persoon van Mnr. Andries Kritzinger.

In 1984 en 714 toegelate leerlinge later, het die skool 'n Voorbereidingskool geword. Vandag is daar nie meer leerlinge wat die skoolklok hoor lui nie. Die gebou word wel nog gebruik vir ander byeenkomste soos bidure, vergaderings, gemeenskap opleiding. Die gebou en gronde word netjies gehou deur die omliggende boere wat ook almal hul onderrig daar ontvang het.


Ashton

Teen die begin van die 18e eeu was die nedersetting aan die Kaap tot die omstreke van Kaapstad, Stellenbosch en Drakenstein beperk. As gevolg van die ontwikkeling van veeboerdery, het die uitbreiding van die binneland na 1700 in alle erns in aanvang geneem. Die koloniste het in ’n noordelike en oostelike rigting getrek. Die veeboere begin gevolglik met hulle vee oor die berge trek. Die beweging begin ooswaarts omdat die pas (nou die Sir Lowry’s-pas) die gemaklikste weg was. Eenmaal oor die pas het die heerlike valleie van die Sonderend- en Breërivier voor hulle oopgelê.

Die pokke-epidemie van 1713-1715 het hele Hottentotstamme laat uitsterwe. In die vroeë digbevolkte valleie van die Sonderend- en Breëriviere kon ’n mens na 1715 slegs hier en daar ’n enkele kraal van Hottentotte kry. Die land was leeg en sonder inwoners; daar was niemand om die blankes na dese te belet om sulke vrugbare grond in besit te neem nie.

Op 28 April 1823 het die H.O.I.K. aan die veeboer Frederik Jasz van Eeden die reg verleen “omme voor ten tyd van een geheel jaar met syn vee te moogen gaan leggen en weijden boven aan de Saraas Rivier, mits aldaar imand leggende in’t hoeden niet hinderlyk te syn.” Hy kon vir ’n onbepaalde tyd die leenplaas besit mits hy gereeld sy jaarlikse lisensie hernu en die nodige rekognisie-geld van twaalf riksdalers per jaar betaal.

Ander veeboere het hul weldra hier gevestig. ’n Lisensie uitgereik op 19 September 1725 lui: “werd door deesen geparmitteerd aan den landbouer Bernardus Bulion omme voor den tyd van een geheel jaar met syn vee te moogen gaan leggen en wiejden tusschen de Saras rhievier en Cochemans Cloof genaamt de hoorens fontein.” In 1727 verlaat hy die plaas.

In 1733 vestig Mattijs Strydom hom “aan de Cochmans Cloof genaamt de hoorens fontein.” Op 24 Julie 1739 word aan Pieter Wullemz Nel die reg verleen om hom “op de plaats genaamt Zandvliet aan de Cochmans Cloof” te vestig.

’n Uitspanning genoem “Roodewal” is vir die veeboere onder die rooi walle van die Cogmansrivier ingerig. Hierdie uitspanning was geleë langs die grootpad wat langs die Langeberge gekronkel het. By Roodewal het die boere en handelaars mekaar op vasgestelde tye ontmoet. Hier is handelsware uitgeruil. Vir biltong, velle, ens. het die veeboere geruil: negosieware, ammunisie, brandewyn en ander benodighede. Ook vir boere in die Klein-Karoo was Roodewal ’n belangrike handelspos.

By Roodewal het boere ook by geleenthede mekaar ontmoet en as vrywilligers na die grensdistrikte vertrek om die grensboere in hulle stryd teen die swartes te help.

In Junie 1858 is die landdrosdistrik van Robertson geproklameer. Dit het die hele Montagu en omliggende dele ingesluit. Die distrik is in 1859 in sewe veldkornetskappe verdeel. Die volgende plase was in die veldkornetskap bekend as voor-Cogmanskloof geleë: Sarasrivier, Loopende Rivier, Zandvliet, Goedemoed, Klaas Voogds Rivier en aan de Klaas Voogds Rivier. Montagu het in Januarie 1897 ’n afsonderlike landdrosdistrik gekry. Roodewal en omgewing het eers later onder Montagu se jurisdiksie geval.

Die pad vanaf Montagu na Roodewal deur Cogmanskloof het op agt plekke oor die rivier gekronkel. In 1969 is begin met die bou van ’n nuwe pad en tonnel en is in 1877 teen ’n koste van R24 564.00 voltooi.

Op 28 Februarie van daardie jaar is die nuwe pad vir verkeer oopgestel en aan die Afdelingsraad van Robertson oorhandig.

Op 26 September 1887 word die spoorlyn tussen Worcester en Roodewal geopen. Ongeveer toentertyd is die naam Roodewal verdoop na Ashton. Die plek is vernoem na Job Ashton, ’n direkteur van die “New Cape Central Railways (Ltd).”

In 1887 word die eerste poskantoortjie met een klerk opgerig. Ook vir die opvoeding van die kinders van die streek moes voorsiening gemaak word. In 1910 word die eerste skool naby die stasie met 16 kinders geopen.

Vir baie jare het Ashton bestaan uit: ’n spoorwegstasie, goedereloods, ’n paar huise en kamers vir die spoorwegpersoneel, een hotel, poskantoor, skooltjie, een winkel, ’n slaghuis, ’n polisiekantoor en twee privaat huise.

Gedurende die jaar 1939 kom hier skielik met die oprigting van die Langeberg Koöperasie, ’n oplewing. In 1949 kry Ashton ’n verdere stoot toe die tweede inmaakfabriek, Ashton Canning Company, gebou word. Waar voorheen slegs doringbome getier het, word erwe uitgemeet en ’n dorp word aangelê.

’n Dorpsbestuur het vanaf 1947 die dorp bestuur. Die dorp brei so vinnig uit dat dit in 1956 verhoogde status kry – ’n Munisipaliteit.

Kerklik was die “Voor Cogmanskloof” teen die middel van die 19e eeu deel van die uitgestrekte gemeente van Swellendam. Toe die nuwe gemeente Robertson in 1853 gestig is, het hierdie wyk ’n deel van die nuwe gemeente geword.

Op 19 Mei 1949 is die NG Gemeente Ashton met 436 lidmate gestig. Die gemeente is agtereenvolgens deur die volgende leeraars bedien: Di. BJB Roux (1949-55), BJ Cronje (1956-61), J Ries (1961-65), B Smit (1965-71) en JH Neethling (1971-).

UIT: Ned. Geref. Kerk Ashton - Kwarteeufees Gedenkboek - 1949 - 1974


75 Paul Kruger Street - "Ranoch Lodge"

Robert Menzies was already a well-established Robertson businessman, owning the shop "R Menzies and Co" on the corner of Van Zyl and Keerom Street, when in 1902 he purchased plots 1 and 2 in block IX on the corner of Darling (renamed Paul Kruger Street in 1938) and Le Roux Street.

A proud Scot, how apt that Mr. Menzies should select a fellow Scot with a proven reputation as an architect to design a house commensurate with his standing in Robertson society. In choosing John Parker of Cape Town, he found a man who exactly fitted these criteria.

John Parker was born in Greenock, Renfewshire, Scotland in 1866 and came out to South Africa with his parents when they emigrated to this country in 1883. He worked initially with Charles Freeman, but by 1890 he started his own practice and designed many public and private buildings throughout the Cape Colony. These include the South African College School classrooms, as well as Rustenberg in Rondebosch, the Civil Service Club, the Great Synagogue in the Gardens and many hotels, shops, schools, churches and private residences. Named "Ranoch Lodge" the Menzies house when built presented a light ethereal aspect with its wood and cast-iron pillared verandah and balcony on the front of the house. Amazingly commodious, the house boasted a drawing-room, dining-room, billiard-room, morning-room and four bedrooms as well as the usual offices and outbuildings necessary to such an establishment. Set well back on the very large plot, a fashion that had then come into vogue, it had a commanding view of a well laid out garden of trees, shrubs, and flowers. The wisteria pergola which was a feature of the garden for over 50 years, stretched from the front gate to something short of the front verandah and was a sight to behold in Spring.

Mr. Menzies, his wife and children were actively involved in the social life of the town and were on very friendly terms with their neighbour who lived diagonally opposite to them in Druids Lodge. Mrs. English and her late husband W H D English had purchased their home in 1883. Not only was she and her children on very good terms with the Menzies family, but the association with the house and its occupants continued with the new owners when the house was later sold, but that was not to be for some years.

In 1904 Robert and Elizabeth Menzies joined the newly established golf club; a year later they became founder members of the Robertson Horticultural Society and a year later still he was elected President of the Robertson Literary and Debating Society, a body that had its beginnings in 1883 and continues to this day. Robert Menzies took an active role in all these Societies, particularly the Literary Society of which he was a committee member in the intervening years between 1906 and 1912 when he was once again elected President. When in 1915 the President Elect, Dr Osler and Vice President, Dr van Zyl both joined up to serve in the 1st World War, Mr. Menzies once again stood in as acting President. By 1916 one of the Menzies sons had joined the army and Mr. and Mrs. Menzies put their home and much of its contents up for auction, and left Robertson.

The house was then purchased by Mr. and Mrs. Sidney Tokes Waddell, another successful businessman in Robertson. It was perhaps around this time or a few years later that the house underwent a structural change when its wood and iron verandah and balcony were replaced with eight columns and a 1st floor brick balcony giving it the distinctly Antebellum look of the plantation houses of the American South that it presents to this day.

Madge and Sidney Waddell, their two sons and Mrs. Waddell's brother, Tom Harvey, lived in the house for many years. Even after Mr. Waddell died in 1949 and the sons grew up and left home, Mrs. Waddell and her brother continued to live in this very large well-known landmark.

New-comers to the town were very soon made aware of Tom. His simple child-like quality of saying exactly what he thought, was a frequent cause of amusement sometimes tinged with consternation. He collected and delivered the post for many businesses and for at least 20 years was invaluable in delivering the notices for the Robertson Literary Society meetings. For a few years in the 1960's the acting secretary at the time thought she would show the Society's appreciation by presenting Tom with a box of chocolates at the end of the year. After about 3 years of this small ritual Tom put a decided stop to it, by saying: "Please don't give me chocolates. I don't like them". An ardent member of the Anglican Church, not only did he keep a tally of those who attended Thursday morning services at St Mary's, but he was not averse to mentioning them by name to anyone he might meet after the service. With Tom's death in 1975, a few years after his sister had passed away, the house was sold and shortly thereafter sold again to the present owners in 1979.

RN Saacks – 25 August 2002


Robertson se straatname

Die oorsprong van sommige straatname in Robertson:

Robertson straat – vernoem na Dr. William Robertson na wie die dorp óók vernoem is. Hy was die NG predikant van Swellendam en het dienste gehou en sakramente bedien aan lidmate in die gebied voordat die dorp tot stand gekom het.

Swellendam straat – die Robertson gebied was deel van die NG Gemeente Swellendam en ook die Swellendam distrik.

Kerkstraat – so genoem na die NG kerk wat die totstandkoming van die dorp aangemoedig het.

Mark straat – strek vanaf die markplein agter die NG Kerk wat vroeër jare die plek was waar boere en handelaars uitgespan het om hulle produkte te verkoop.

Barry straat – vernoem na “Joseph Barry & Nephews of Swellendam”. Die Barry-familie het sedert die 1840s handel gedryf met boere in die omgewing.

Victoria en Albert strate – vernoem na die Britse koninklike familie aangesien die Kaap onder Britse bewind was.

Truter straat – vernoem na John Truter van Swellendam wat eens dáár die magistraat was. Hy was die skoonvader van Dr. William Robertson.

Le Roux (voorheen Le Roex) en Reitz strate – waarskynlik vernoem na Eduaard Christiaan le Roex and Francis William Reitz, ouderling en diaken van Swellendam. Hulle was deel van die afvaardiging wat die moontlikheid van afstigting destyds ondersoek het.

Van Zyl straat – vernoem na Johannes Willem van Zijl, wie se grond aangekoop was vir die uitleg van die dorp.

Darling straat – vernoem na Sir Charles Henry Darling, Luitenant Goewerneur van die Kaap vanaf 1849. Hy het die hoeksteen van die NG Kerk gelê in 1854. Later is dit vernoem na Paul Kruger straat.

Polack straat – vernoem na Mauritz Bernard Polack, die eerste plaaslike onderwyser nog voordat die dorp uitgelê was. Hy het op die plaas van Hans van Zijl gewoon en was betrokke in die kerkdienste wat daar gehou was. Hy was ook mede ondertekenaar saam mer Dr. Robertson toe die plaas aangekoop was. Hy was ook sekretaris en later voorsitter van die dorp bestuursraad vir baie jare.

White straat – vernoem na Dr. Thomas White, ’n baie bekende dokter van Swellendam. Hy was goed bevriend met Dr. Robertson en die Barry-familie.

Stockenström straat – vernoem na ’n Suid-Afrikaans gebore politikus, Sir Andries Stockenström. Hy was ’n groot voorstander van verteenwoordigende regering vir die Kaap en die nuwe konstitusie wat in 1853 in werking getree het. Later is dit vernoem na Piet Retief straat.

Constitution straat – so genoem a.g.v. die nuwe konstitusie vir die Kaap van 1853.

Van Reenen (Renen) straat – vernoem na die landmeter H van Renen wat die dorp uitgelê het. Twee strate is vernoem na ’n landmeter wat hom gehelp het nl. Hopley laan en Hopley straat wat nou Waterkant straat heet.

Tindall straat – vernoem na Joseph Tindall, die Metodiste predikant wat die metodisme na Robertson gebring het in die 1850s.

Adderley straat – vernoem na die Britse politikus Charles B Adderley.

Hoop (Hope) straat – vermoedelik so genoem na die riviertjie met dieselfde naam of moontlik vernoem na William Hope, Kaapse staatsekretaris, wat destyds toestemming verleen het vir die dorp om Robertson genoem te word.

Van Oudtshoorn straat – vernoem na Van Oudtshoorn wat die siviele kommissaris en magistraat was in Swellendam en wat Robertson besoek het in 1854.

Worcester straat – so genoem aangesien dit na die drop Worcester lei. Later is dit vernoem na Voortrekker straat.

Education (Skool) straat – waar verskeie skole geleë is. Later is dit vernoem na Dirkie Uys straat.

Met die Groot Trek Eeufeesviering in 1938 is strate (ook landswyd) vernoem en so het Paul Kruger-, Piet Retief-, Voortrekker- en Dirkie Uys strate hul naam gekry.


Wesleyaanse Kerk in Paul Krugerstraat

Soos baie ander plattelandse dorpe is Robertson in 1853 gestig vanweë die behoefte van die boerderygemeenskap in die gebied, wat kwartaalliks deur dominee Robertson van Swellendam besoek is, om 'n eie kerk te hê. Alhoewel die N G Kerk aan die bopunt van Kerkstraat die inwoners se eerste prioriteit was, is daar 'n skrale vier jaar later 'n Metodiste Gemeente gestig toe eerw. William Moister, Algemene Superintendent van die Kaapse Distrik, vergesel van eerw. Joseph Tindall en mnr. Lindsay per ossewa na Robertson gereis het om die hoeksteen te lê van die eerste Wesleyaanse Kapel op die hoek van Le Roux straat en Hopley laan. Uit die kapel is die toe oorwegend bruin volgelinge bedien.

In 1859 het eerw. Henry Tindall die eerste plaaslike predikant geword en dit is gedurende sy dienstyd dat die gemeente so in geloof en getalle gegroei het dat die Wesleyaanse kerk in Paul Krugerstraat (voorheen Darling straat) in 1867 gebou is. Carl Otto Hager (1813-1898) word lank reeds beskou as die argitek van die kerk aangesien die neo-gotiese ontwerp dieselfde argitektoniese kenmerke het as baie van die ander kerke wat hy gebou het bv. in Clanwilliam, Fraserburg, Ladismith sowel as die Lutherse Kerk te Stellenbosch, om maar het ’n paar te noem.

Die 1869 kerk verslag meld dat die Metodiste skool toe 122 leerlinge gehad het van wie 18 wit was. Gemeentelede het hard gewerk vir die vooruitgang van die kerk en die stigting van 'n kerkkoor en die koperblaasorkes was 'n integrale deel van hul sosiale lewe. Buiteposte is gestig te Lady Grey, nou McGregor, Montagu en Swellendam.

Gedurende die bediening van eerw. W Edwards (1874 – 1896) is verdere verbeterings aan die kerk aangebring en is die konsistorie aangebou. Die aantal predikante wat hierna die gemeente bedien het, het verdere luister aan die kerk verleen. Die name van gemeentelede soos De Wit. Michaels, Adendorf, Kuhn, Goliath, Solomon, Jones, Smit, Soldaat, Richter, Jeneke en baie meer, te veel om hier op te noem, kom geslag na geslag in die kerk se rekordboeke voor. Dis almal families wie se werksaamheid en integriteit steeds 'n bate vir ons hele dorp is.

In 1957 is 'n eeu van Metodisme in Robertson vir veertien dae lank gevier.

In 1969 is eerw. HA van Eck as eerste bruin leraar van die gemeente aangestel. Hy is opgevolg deur eerw. Pietersen wat in 1976 die laaste preek in die kerk gelewer het. Die wetlike probleme wat ontstaan het as gevolg van die Groepsgebiedewet het in hierdie stadium die gemeente verplig om uit te kyk vir 'n nuwe perseel. 'n Ruim erf in Wesley straat is vir R2,00 van die munisipaliteit aangekoop. Om egter die koste van die nuwe kerk te kon dra, moes die eiendom in Paul Krugerstraat verkoop word en dit is toe aangekoop deur mnr. Roelou Barry, 'n plaaslike sakeman, wat dit aan die N G kerk geskenk het met die bepaling dat die kerk en pastorie deel moes vorm van ’n tehuis vir bejaardes of sentrum vir senior burgers.

Eers in 1983 toe plaaslike inwoners agtergekom het dat die pastorie wat 'n paar jaar onbewoon was, feitlik oornag afgebreek is, gevolg deur die ontstellende nuus dat die "Pienk Kerkie" soos dit spoedig in die pers bekend geword het, ook afgebreek gaan word, het baie mense aan die munisipaliteit en koerante begin skryf en hulle kommer daaroor uitgespreek. 'n Vyftienjarige skoolseun, Werner Viljoen het voorsitter van 'n groep bekend as "Die Jeugaksie: Red Ons Kerk" geword en het saam met die sekretaresse, Dalena de Kock, honderde handtekenings op 'n petisie teen die sloping van die kerk versamel. Verder het die baie briewe van inwoners en andere wat in die plaaslike en Kaapstadse koerante verskyn het, die aandag gevestig op die geskiedkundige en argitektoniese waarde van die kerkgebou.

Vroeg in 1984 is 'n openbare vergadering op die dorp gehou waartydens die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede beloof het om geldelike hulp te verleen met die restourasie van die kerk. Hierna is die gebou ook voorlopig tot nasionale gedenkwaardigheid verklaar sodat daar ’n einde gekom het aan die voorneme om die gebou te sloop.

'n Gebrek aan geld en bystand uit ander bronne om 'n tehuis vir bejaardes op te rig, het veroorsaak dat die beoogde projek tot stilstand gekom het. In Oktober 1994 is die eiendom aan die ACVV oorgedra en is Murray, Biesenbach & Badenhorst Raadgewende Ingenieurs opdrag gegee om planne op te stel vir 'n aftree-oord en die restourasie van die kerk. Daar is in Julie 1995 begin met die projek wat in April 1996 deur die boukontrakteur, E C Stemmet van Montagu, voltooi is.

Die Roelou Barry Aftree-oord en die pragtig gerestoureerde Wesleyaanse Kerk, is vandag 'n monument vir al die mense van Robertson wat daarna gestreef het om die kerk te bewaar en die bouprojek te voltooi.

deur: RN Saacks


Robertson Rolbalklub

Die besluit om Robertson Rolbalklub te begin, was geneem op ’n vergadering op Vrydag, 3 Junie 1938. Mnr. AL Ash was die voorsitter en Mnr. Houghton die waarnemende sekretaris. Mnr. Warren het voorgestel dat ’n komitee saamgestel word om die koste van die projek te bepaal en ook of die Stadsraad gewillig sou wees om te help met die lening vir die grond. Dié voorstel was gesekondeer deur Mnr. Ash. Mnr. Blanckenberg, kapt. Musket en Mnr. Houghton is afgevaardig om die nodige inligting te bekom en dan verslag te doen by ’n vergadering wat vir 13 Junie 1938 belê was.

Tydens die vergadering van 13 Junie, het die drie menere aangekondig dat die koste om die rolbalklub projek deur te voer sowat £500 sou kos. Kapt. Musket het toe voorgestel dat ’n komitee aangestel word om die Stadsraad te versoek dat ’n gedeelte van markplein beskikbaar gestel word vir ’n rolbal perk en ook dat ’n lening van £500 toegestaan word. Dieselfde drie menere is tot die komitee verkies.

By ’n vergadering gehou op Maandag, 25 Julie 1939, her Mnr. Swart voorgestel dat die samestelling van ’n rolbalklub nou uitgevoer word en die eerste ampsdraers was soos volg verkies:
President: Mnr. W Neethling
Visie-president: Mnr. SE Warren
Sekretaris & Tesourier: Mnr. JH Houghton
Komiteelede: Mnre. T Tilney, JH Musket, C Kooy, GJ Swart, CR Wolhuter, J Blanckenberg, PM Orton, HE Cushing, AL de Jong and Dr. AJ Bronkhorst. As alternatiewe lede, I de V Malherbe, E Barry and PD Geyser.

By die eerste algemene jaarvergadering van die Robertson Rolbalklub, gehou op Vrydag, 15 November 1940, het Mnr. Neethling ’n kort verslag gegee van die stappe wat geneem was om die klub op die been te bring. Die konstitusie van die Worcester Rolbalklub is aangeneem vir gebruik deur Robertson met enkele klein veranderinge. Die volgende ampsdraers was verkies vir die komende jaar:
President: Mnr. MF Smith
Visie-president: Mnr. W Neethling
Sekretaris: Mnr. WB White
Tesourier: Mnr. L Fick
Perk meesters: Mnre. AM Coetzee and J Blanckenberg
Komitee: Dr. AJ Bronkhorst, Mnr. RL Barry and Mnr. HE Cushing.

By ’n vergadering op Donderdag, 12 Februarie 1942, was ’n boukomitee verkies vir die klubhuis: Mnre. W. Neethling, G Swart, G Siddle en HE Cushing. By ’n vergadering gehou op Woensdag, 3 Junie 1942, het die boukomitee berig dat die boukoste vir die klubhuis ’n bedrag van £134 sou beloop - £84 vir materiaal en £50 vir arbeid.


Kalkoonde en kalkbrandery

KALKBRANDERY IN ROBERTSON-AREA
Deur JD (Oom Koot) Stemmet (vroeër van Dassieshoek)
4/11/1991

Aan die einde van die vorige eeu en begin van hierdie eeu was markte vir plaasprodukte baie swak. Ek self beskik nog in my versameling oor ’n aflewerings bewys waar ek een lêer wyn, 762 bottels, verkoop het teen £1:18:0 (een pond agtien sjielings = R3.80) d.w.s. 762 bottels wyn @ 456 pennies, omgereken in vandag se geld = 762 bottels teen 760 halfsente.

Boere in hierdie distrik het toe hul inkomste aangevul deur kalk te brand. Ek self het kalk gebrand in 1933 en dir verkoop teen 7½ per 100 kg sak. Kalk is algemeen gebruik in die boubedryf in messelklei, pleisterkalk en as verf.

Dit word beweer dat Robertson die enigste plek in die wêreld is waar kalk uit klip gebrand is deur die boere in die vorige eeu. Ander plekke is kalk gebrand van die skulpe van seediere.

In Dassieshoek was ses sulke kalkoonde, by Droëheuwel een en by Môreson een.

Die algemene kopers was Barry-handelaars en Liberman & Buirski van Robertson, asook Barry’s van Montagu. Die algemene prys was 25c per 100 kg sak.

Die oond het bestaan uit ’n kegelvormige poort wat uitgekap is in die wal van ’n diep kloof en dan voor opgemessel is met stene of klip sodat dit ’n ronde opening in die grond vorm, met ’n deursnee van ongeveer vyf tot ses treë en ’n diepte van ongeveer sewe tot agt treë. (i tree = 36 duim, 1 meter = 39 duim). Aan die voorkant waar die muur opgemessel is om die kegel te voltooi, is daar ’n opening gelaat, genoem die bek van die oond, ongeveer een-derde meter wyd en ongeveer een-derde meter hoog. In die vloer van die oond vanaf die bek tot by die agterste wand was daar ’n poort gegrawe, ongeveer een-derde meter wyd en een-derde meter diep, genoem die poort. Oor die poort was daar ’n rooster bestaande uit stukke wawielysterband. Hierdie poort, deeglik gevul met goeie dun hout, meestal renosterbos en ysterhout, het gedien om die vuur aan te steek. Wanneer die oond gelaai word, is daar op die vloer houtstompe gepak meestal bloekom of populier of selfs veldhoutstompe soos swart-olien, wit-olien, harde-peer, melkhout, ysterhout en so meer. Die groot stompe ongeveer een meter hoog gepak en is opgevul met kleiner stompe sodat die oppervlak redelik gelyk is. Hierna word die oond van bo opgevul met ’n laag (1½ meter) met die hand gekapte kalkklip ongeveer vier sentimeter in deursnee wat met die ossewa of met ’n slee vanaf die koppe aangebring is. Daarna word weer ’n laag hout gepak en weer ’n laag klipgruis totdat die oond tot bo gevul is.

Nadat die oond klaar gevul is tot bo, is dit aangesteek onder by die rooster. Daar moes goeie sorg gedra word dat die oond vat, met ander woorde die vuur moes nie doodgaan nadat dit aangesteek is nie, want so ’n oond kan baie probleme gee om weer aan die brand te kry. ’n Mens kon selfs dae aaneen sukkel om ’n oond weer aan die brand te kry.

Wanneer die oond gevat het, brand dit vir ongeveer drie dae voor die vuur bo uitkom, dan word die kalkklippe rooiwarm, byna deurskynend. Ek glo dit ontwikkel ’n hitte van byna 800° Celsius.

Die aanbring van die stompe en klippe met die ossewa en met ’n slee, die kap ban die klippe met die hand en die laai van die oond het 1½ tot 3 weke harde werk gekos. Dit was ’n kuns om die oond goed te laai sodat dit ’n trek het en die rook en hitte bo uitkom en nie onder by die bek uitwarrel nie.

Wanneer die eerste kol vuur na drie dae bo uitkom, dan sak die klippe op daardie kol en word dit ’n dam genoem. Die dam word nou opgevul met ’n dun lagie klip en so word elke dam mettertyd opgevul sodat die vuur oor die hele oppervlak van die oond uitgekom het. In hierdie stadium is die oppervlak van die oond ’n gloeiende witwarm massa, ek glo 800° Celsius en kan mens dit nie naby die oond waag nie weens die intense hitte.

Na ongeveer 8 dae is die oond genoegsaam afgekoel en word die bek wat intussen toe gemessel was, oopgemaak en word die kalkklip wat nog steeds heel is, by die bek uitgeskep met ’n graaf of vurk, dit word nou in ’n hopie gegooi op die baan en nat gesprinkel met water met die hand. ’n Klein hoeveelheid water wat in aanraking kom met die klip, laat dit onmiddellik blus tot fyn wit poeier, ’n chemiese reaksie vind plaas en ongebluste kalk plus water vorm gebluste kalk. CAD word Co3.

Hierna lê die veeleisendste deel van die werk voor wanner die kalk met die handsif gesif word om die harde deeltjies wat nie geblus het nie, uit te sif. Hierdie word kalkskulpies genoem en gebruik om geboue af te pleister, genoem rofkaas (rough cast). Daarna word it met ’n kopgraaf opgeskep en in sakke was 100 kg gegooi.

Sommige oonde het 120 sak gelewer, ander tot 300 sak.