Lede Aanbiedings

By elke maandelikse byeenkoms van die Gilde, kry ‘n lid die geleentheid om ‘n aanbieding te doen oor ‘n onderwerp uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis van sy/haar keuse. Hieronder sal ‘n bondige opsomming verskyn van die aanbieding en meer volledige teks en/of foto’s kan afgelaai word waar toepaslik. Klik net op enige balkie vir meer besonderhede.

Vroue se rol in die geskiedenis van SA (Deel 2) - deur: Rudi Oosthuizen

Hier volg deel 2 van 'n reeks oor dit wat vroue in die geskiedenis van Suid Afrika vermag het.




Die 1914 Rebellie - deur: Len van Aswegen

Dit staan in die volksmond as "die Rebellie" bekend. Dit is nie verkeerd nie, want dit was 'n rebellie. Niemand kan egter ontken dat dit ook 'n burgeroorlog, 'n broederstryd, 'n opstand en gewapende protes was nie. Dit was 'n tragiese en komplekse gebeurtenis wat deur verskillende fases gegaan het. Wat 'n mens dit wil noem, hang af uit watter hoek jy dit beskou, watter fase of faset jy wil beklemtoon en wie die skuld vir die tragedie moet kry. LJ Bothma.


Between Two Pillars - deur: Zack Julies

Die Vrymesselary is 'n wêreldwye humanitêre organisasie, met lidmaatskapstoetrede beperk tot mans en deur middel van 'n inlywingsproses. Die belangrikste funksie van 'n vrymesselaar is om betrokke te wees by liefdadigheidswerk, en by gemeenskapsontwikkeling.

https://af.wikipedia.org/wiki/Vrymesselary  

Daar kom die Alabama - deur: Annette Naudé

Daar kom die Alabama ...

Die verhaal van die Alabama in volksmond is ‘n werlikheid, nie ‘n sprokie nie. Die Alabama het nog steeds die Kaap aan die sing, veral tydens die Nuwe Jaar parades in Kaapstad. Die lied is ook opgeneem in die bron van volksmusiek: Die FAK lied 257.

Die CSS Alabama was ‘n klipper wat ‘n groot voetspoor op die Kaapse-, asook internasionale gemeenskap gelaat het. Hoe dan?

 

Louis Botha - deur: Hennie van Dyk

Louis Botha

Krygsheer

Staatsman

Grondlegger van die Unie van Suid‐Afrika

’n Held of Verraaier van die Afrikaner?

Louis Botha, een van 13 kinders wat op die plaas Hartebeesvlakte naby Greytown in Natal gewoon het, het slegs 57 jaar oud geword. Treffende voorkoms met sy donker hare en potblou oë, was hy 'n vooruitstrewende boer en ywerige politikus. As jong man het Botha in die Transvaalse politieke lewe betrokke geraak en in Pretoria, asook op sy spogplaas Waterval naby Vryheid, gewoon. Hy het gedurig sy kennis van boerdery aangevul en sou 'n baie welgestelde man word.

 

Die rol van vroue in die geskiedenis van Suid Afrika - deur: Rudi Oosthuizen

Die rol van vroue in die geskiedenis van Suid-Afrika word onderskat en is nie baie omvattend opgeteken nie. Met hierdie aanbieding word gepoog om sulke vroue se bydrae uit te lig en bekend te maak. Die aanbieding sal in dele bygewerk word oor verloop van tyd om soveel moontlik vroue op een plek onder die kollig te plaas. Ons mag nie hulle bydrae vergeet of verlore laat gaan nie.



Op soek na betekenis in die werk van Judith Mason - deur: Adriaan Landman

Judith Mason (10 Oktober 1938 – 28 Desember 2016) was 'n Suid-Afrikaanse kunstenaar wat met olieverf, potlood, drukkuns en gemengde media gewerk het. Haar werk is ryk aan simboliek en mitologie, en vertoon 'n seldsame tegniese virtuositeit.

https://af.wikipedia.org/wiki/Judith_Mason  

Joseph Barry en die Ekonomiese Ontwaking van die Overberg - deur: Natasha Barry

Barry het na die Kaap gekom as verteenwoordiger van 'n Londense wynhandelaar nadat hy die wynbedryf bestudeer het in Frankryk en Spanje. Die onderneming het misluk en hy is terug Engeland toe, maar vroeg in 1819 het hy hom metterwoon aan die Kaap kom vestig. Sy kennismaking met Dirk Gysbert van Reenen, 'n welgestelde boer met wie se kleindogter hy getrou het, het Barry bekendgestel aan die Overberg, 'n streek waarvan hy lewenslank die ongekroonde koning sou word.


https://af.wikipedia.org/wiki/Joseph_Barry

Die familie storie wat amper verlore gegaan het - deur: Jean van der Merwe

As kind het dit my opgeval dat my Oupa elke dag ’n bakkie stampmielies saam met sy hoof maaltyd genuttig het. Volgens oorlewing het dié gewoonte iets te make gehad met ’n gelofte wat lank terug geneem is. Alhoewel ons die verduideliking aanvaar het, het ons nie die feite van hierdie ernstige saak verstaan óf kon staaf nie.

My moeder het ons onlangs ontval en terwyl ek een dag deur ’n trommel boeke gegaan het, kom ek af op ‘n boek met die titel van “In het land van Piet Retief” deur L. Rompel-Koopman van 1919. Ek begin dadelik daardeur lees en kom op die volgende paragraaf af wat die stampmielie-eetgewoonte van my Oupa onomwonde verklaar het:

“Dit was 'n baje treurige tijd. Die mense het so hulpeloos gestaan teenoor daardie kwaad, maar viral het die gebrek aan goeië kos ons baje swaar laat krij. Ons het net van mielies geleef, mielies wat die mans gaan haal als die nood dring. Weet jij, mij kind, die Soeloes het hulle mielies begraaf in hulle struisse onder die vuurplek. Die vuurplek is in die middel van die struis. Daar is 'n gat gemaak, wat uitgesmeer word met mis en aarde. Dit word hard en daarop kom die vuur. Wel, ons mense het geweet daar onder die vuurplek bewaar die Soeloes hulle mielies. Soos ik sê, als die nood dan dring, gaan daar mans te perd 22 tot 23 mijl ver en breng uit die verlate struisse die mielies. Mij Pa het altijd gesê, was dit nie vir die mielies nie, dan het ons almaal van die honger omgekom. Daar is dan ook in Pietermaritzburg 'n verbond gemaak, dat ons en ons nakomelinge al dag gestampte mielies op tafel sal hê, omdat die mielies ons lewe gered het." p.68

Voetnota:
Lea Koopman-Rompel het in 1917 onderhoude gevoer met mev. Lenie Fick van die plaas De Post, Alexandria en dit in haar boek gepubliseer. Lenie Fick was 'n broerskind van Karel Landman en het as kind die Groot Trek meegemaak.

Die episode van die mielies het plaasgevind tussen Februarie en Desember 1838. Nadat Piet Retief vermoor is en die Trekkers deur die Zoeloes aangeval is, het almal in Pietermaritzburg saamgetrek en daar gebly tot na die Slag van Bloedrivier.


Russiese besoeker aan die Kaap 1858 - deur: Jacobus Kloppers

Die hoofbron van my aanbieding is die Van Riebeeck-vereniging se publikasie An Entirely Different World: Russian Visitors to the Cape 1797-1870. Dit is saamgestel onder redaksie van Boris Gorelik, navorser en skrywer verbonde aan Moskou en Johannesburg. Hy het 'n M A in tale en in 2004 het hy 'n toekenning ontvang van die Russiese Wetenskapakademie vir navorsing oor Russiese immigrasie na SA. Hy het o.a. ook 'n biografie oor Tretchikoff geskryf.

Die verslae van nege Russiese besoekers wat op ses verskillende skepe hier aangedoen het, is in die boek opgeneem. Ek konsentreer op slegs een van hulle nl. Ivan Goncharov, se reisbeskrywing. 'n Besoeker van 1858 Alexey Vysheslavtsev, was ook 'n kunstenaar. Sy Kaapse tonele word in die Staatsbiblioteek in Moskou bewaar en is hier vir die eerste keer gepubliseer. Ons kan na die afbeeldings kyk.


Uniewording - deur: Len van Aswegen

Die politieke gebeure wat na afloop van die Anglo-Boereroorlog gelei het na Uniewording in Suid-Afrika.


Robertson Skou Terrein Deel 1 - deur: Dianne Coetzee

In deel 1 van die geskiedenis van Robertson se skou terrein, word gekyk na die gebeure vanaf 1899 to 1945. Laai die dokument hieronder af vir meer besonderhede.









Die Afrika Huis - deur: Rudi Oosthuizen

Die ware verhaal van 'n Engelse heer en sy Afrika droom, Stewart Gore-Browne. Hierdie verhaal speel af gedurende die jare 1914 - 1967 in lande soos Noord-Rhodesië (nou Zambië), Engeland, Suid-Rhodesië (nou Zimbabwe) en Suid-Afrika. Die verhaal word baie volledig vertel deur Christina Lamb in haar boek getiteld "The Africa House".




Khoi-goed - deur: Helena Liebenberg

Die VOC-dokumente wat die Tracing History Trust transkribeer en beskikbaar stel, bevat inligting oor alle onderwerpe denkbaar, waaronder baie gegewens oor inheemse stamme binne en buite die grense van die Kaapkolonie.

Die titel, naamlik Khoi-goed is van besondere belang, want daar word baie kortliks aandag gegee aan die VOC se aanraking met die Khoi en verskillende aspekte word genoem, o.a. kommunikasie, leenwoorde en plekname, met laasgenoemde uit landtogte verkry. Die jare strek onderbroke vanaf 1680 tot 1714.


Helena sluit haar aanbieding af met ’n baie mooi gedig uit haar eie pen ...

'n nuwe kaart is reeds deur U wyse hand
geteken vir ons uitgestrekte droewe land
weigebied, saailand en lappe-lappe grond
oral in U aardse tuin vir voedsel sielsgesond
die rugkant van die blad ook in goud beklee
met vergete woorde deur tyd lynreg afgetree
spellewe, vryheid en 'n plek in die son
vir almal wat put uit U ewige bron
tot he ling, balans, harmonie en vrede ...
tans 'n treurende hart se diepste bede


Passe van die Langeberge - deur: Johan du Preez

Die Langeberge strek vanaf Worcester tot by Humansdorp en was nogal ‘n formidabele obstruksie in die weë van ons pioniers en inheemse mense en diere. Vandag het ons twee hoofroetes van wes na oos. Aan die noordekant van die Langeberge die R62 en suid die R60 en die N2. Ons passe onder bespreking is dan almal verbindings tussen die twee byna paralelle hoofroetes. Dis ook baie interresant dat baie van ons land se paaie gebou is op roetes wat deur olifante en wild gebruik was. Olifante beskik oor die vermoë om die maklikste roetes deur berge en klowe te vind.

Bronne: (1) The Romance of Cape Mountain Passes deur Graham Ross (2) Wikipedia

Die volledige teks en foto's kan hieronder afgelaai word.


Korbeelhuise van die Hantam-Karoo - deur: Rudi Oosthuizen

Korbeelhuise dateer uit die vroeë 1800s en kom in die omgewing van Carnarvon, Fraserburg en Williston voor. Die boustyl bestaan uit die pak van los, plat klippe in 'n sirkelvormige struktuur. Die voltooide huis het 'n kenmerkende byekorf vorm soos op die foto gesien kan word. Dié huis staan langs die museum op Carnarvon. Vir meer besonderhede oor die boustyl laai die twee dokumente hieronder af.

Vernacular Architecture Society of South Africa Journal 17


'n Sprokie gebeur in Robertson - deur: Anita van Aswegen

Die hoofspeler in hierdie verhaal is Marjorie Anderson Marnoch wat in Colombo, Ceylon, gebore is op 5 Sep 1905. Op vierjarige ouderdom is haar ma oorlede waarop haar pa haar in Skotland by sy broer, Sir John Marnoch, gaan aflaai het en dadelik na sy werk in Alberta, Kanada, teruggekeer het. Sy word in Skotland groot. Haar pa kom eers na Engeland terug na sy aftrede waarna hulle saam verhuis na Parkstone in England. Na al die hartseer en eensaamheid in Skotland was sy vasbeslote om 'n gelukkige en gekoesterde omgewing vir ander kinders, haar lewenstaak maak.

Hierdie doelwit laat haar uiteindelik in Robertson, Suid-Afrika, beland en sy laat ’n mooi stukkie geskiedenis agter in die dorp. Laai die dokumente hier onder af vir meer besonderhede en foto’s.




Hoe bedreigd is hierdie erfenis? - deur: Jean van der Merwe

Soms stap of ry 'n mens iewers en jou oog vang iets wat net so 'reg' of 'in plek' lyk - die perfekte simmetrie of skoon lyne van 'n witgekalkte gewel, in presiese verhouding met die res van die huis. Soms is dit die interessante vorm van die bolig, wat herhaal word in die gewel, soms is dit sommer net die vroegoggend- of laatmiddaglig wat skaduweeprentjies maak teen die gewel. Vir my was dit nog altyd 'n goeie rede om te stop en weer te kyk, want ons sien hierdie unieke vorms nie meer dikwels nie.



Die boog van die Lengtelyn / Meridiaan - deur: Annette Naudé

Die werklike boog wat die vorm van die aarde bepaal het en die rol wat Suid Afrika in die bepaling daarvan gespeel het ...

En so, na 2000 jaar se noukeurige navorsing en onvermoeide ywer van talle wetenskaplikes van verskeie lande, frustrerende dooie punte en 'n verrassende Kaapse draai word onteenseglik bewys, liewe vriende, die aarde is rond!! Met die koms van moderne satelliete is Lacaille se teorie van afplatting by die pole bewys. George Everest (in foto) het slegs krediet gekry vir sy werk in Indië en die opmeting van die Himalayas. Vandaar sy “Sir-skap”.



Sir David Pieter de Villiers Graaff - deur: Maree Rabie

David Pieter De Villiers Graaff was die 4de kind van Petrus Novbertus Graaff en Anna Elisabeth de Villiers. Hy is gebore op 30 Maart 1859 op die plaas "Wolfhuiskloof" by Villiersdorp. Die dorp is vernoem na sy oupa aan moederskant, Pieter Hendrik de Villiers, met sy stigting in 1841.

Sy familie was baie arm. Hoewel lief vir die plaaslewe in die skilderagtige landstreek, kon hy nie 'n behoorlike bestaan maak nie, Hy probeer wyn en vrugte kweek, maar die mark vir beide produkte stort ineen, en sy verliese word deur droogte vererger. Die kinders moes toekyk hoe hul vader worstel om ’n verband af te betaal sodat hy uiteindelik, oud voor sy tyd, verplig word om die bestuur van sake in sy vrou se hande te laat.

'n Boervrou maak 'n plan. Die gesin kry 'n besoek van ene Jacobus Combrinck - "ou oom" deur die familie genoem. Combrinck, 'n welgestelde slagter van Kaapstad, was 'n halfbroer van David se vader. Combrinck se moeder, Johanna Catharina Elizabeth, 'n nooi Uys, was 'n familielid van die Voortrekker Piet Uys. Sy was eers getroud met Johannes Jacobus Graaff, en uit die huwelik is vyf kinders gebore - drie seuns en twee dogters, van wie Novbertus die jongste kind was. Uit haar tweede huwelik met Petrus Arnoldus Combrinck, is drie kinders gebore, van wie Jacobus Arnoldus Combrinck, die oudste was.

Tydens die kuier van Jacobus Combrinck op die plaas moes die kinders na skool soos gewoonlik hand bysit met die plaaswerk. Dit was David se werk om die varke op te pas. Een middag het hy aan die slaap geraak en die varke het die tuin gaan verwoes. Combrinck het die hele petalje aanskou en bied aan om die kind saam met hom te neem om in sy slagtery te kom werk. En in 1870, op 11 jarige ouderdom, het hy in sy grootoom se slaghuis, Combrinck en Co, gaan werk in Kaapstad terwyl hy privaat onderrig ontvang het. Sy grootoom, aan moederskant, Jacobus Arnoldus Combrinck het gehoop dat Graaff dalk eendag sy suksesvolle slagtery sal oorneem sodat hy die Koloniale Politiek kon betree.

Graaff het in Kaapstad aangekom tydens 'n tydperk van groot ekonomiese en populasie groei. Drie jaar vroeër is die grootste neerslag van diamante in die geskiedenis ontdek in die binneland. By die tyd dat die "Cullinan" diamant ontdek is in 1869, was Kaapstad oorbevolk met prospekteerders en beleggers wat hoop om te kapitaliseer op die ontdekking. Kaapstad was dan ook die bes ontwikkelde dorp in SA en dien as groot logistieke sentrum vir prospekteerders.

Na die afsterwe van Sir David se vader op Villiersdorp in 1875, het sy jonger broer Jacobus saam met hom by "Combrinck en Co" slaghuis kom werk. In 1881, elf jaar na sy aankoms in Kaapstad, het hy en sy jonger broer Jacobus Arnoldus Graaff die slaghuis besigheid oorgeneem. Op daai stadium was die besigheid £47,000 werd. Een jaar later, in 1882, arriveer die eerste skeepsvrag verkoelde vleis in London vanaf Australia. Graaff besef dadelik die belangrikheid van hierdie tegniese uitvinding vir sy slaghuis besigheid en spandeer die meeste van die 1880s om oorsee te reis. Deur dit te doen leer hy so veel moontlik van die vleis markte en slagpale in Engeland asook die vleis verpakking in Amerika. Hierdie reise het hom ook meer laat belangstel in die politiek.

Reeds op 23 jarige ouderdom word hy verkies as Stadsraadslid van Kaapstad. Graaff was ook aktief in Openbare werke. Hy was 'n vrywillige soldaat en kommandeur van die Cape Garrison Artillery vir 'n paar jaar. Hy het gedien op die Kaapse Stadsraad vanaf 1882 en dien as Burgemeester in 1891 en 1892. Hy skenk dan ook aan die stadsraad die ampstekens van die eerste Burger- nl. Burgemeesters toga, -hoed en -ampstaf wat vandag nog in gebruik is. Hy neem ook in hierdie tyd die leiding om elektrisiteit in die stad bekend te stel. Hy het ook 'n groot rol gespeel in die bou van opgaardamme om water te voorsien aan die Stad.

Graaff was ook 'n lid van die Parlement vanaf 1891 tot 1897. Reeds in sy eerste termyn as lid van die Parlement het hy genoem dat elektrisiteit deur die opgaardamme teen Tafelberg krag kan opwek vir Kaapstad. In 1895 bou hy die eerste kragstasie in Kaapstad, wat vandag nog staan, langs die Molteno Dam teen Tafelberg se laer hange en sodoende ontstaan die "Graaff Electric Lighting Works". Die Graaff deeI van die die naam verwys na David Pieter de Villiers Graaff wat tydens sy Burgemeesterskap die raad oortuig het dat die toekoms van krag "a very bright one" was. Op 13 April 1895 word Kaapstad se straatligte aangeskakel.

In 1899 stig Graaff en sy broer Jacobus die "Imperial Cold Storage and Supply Company". Hierdie Maatskappy groei dan ook tot die grootste vleis verpakking en verwerkings Maatskappye in die wêreld en was ook verantwoordelik vir die generering van Graaff se fortuin. Hul konsentreer daarop om skepe te voorsien – dis veral die Union en Castle Skeepslyn wat die "cold storage" bevorder. Die Imperial Cold Storage maatskappy is oorgekoop deur "Tiger Brands" in 1998.

Dit was dan ook in hierdie stadium dat Graaff, saam met Ernest Oppenheimer, uiteindelik sukses gehad het om die Duitse mynbelange bymekaar te kry en die "Consolidated Diamond Mines of South West-Africa" onder beheer van Anglo American te plaas.

Gedurende die ABO het Graaff die kontrak gekry om die Britse soldate van voorraad te voorsien, maar hy en sy broer het ook voorsiening gemaak vir die ellende van die Boere gevangenis asook die voorsiening van mediese hulp aan die vroue en kinders in die Britse konsentrasiekampe. Die twee broers skenk ook na die oorlog £100,000 vir noodlening onder die vroue en kinders.

Die vleismark het baie gedaal na die ABO en Graaff het besluit om geld in die eiendomsmark te bestee. Met die het hy die plaas "De Grendel" in Plattekloof, Tygerhof, Wingfield, Ysterplaat, Montagu gardens tot by Paarden Eiland en Ascot aangekoop. Op De Grendel het hy 'n Friesbees stoet opgebou saam met sy geliefde Arabierperde en vandag is dit ook 'n welbekende wynplaas.

Graaff was weer 'n lid van die Parlement vanaf 1908 tot 1920. Hy het gedien as Minister sonder portefeulje in die Kaap Kolonie se laaste Kabinet - 1908 tot 1910. Hy was 'n goeie vriend en vertroueling van Gen. Louis Botha wat dan die eerste Premier van die Unie van Suid Afrika was. Nadat Graaff as finansminister aangestel is, was hy en sy broer Jacobus die enigste twee broers wat saam in ’n kabinet gedien het.

Graaff was 'n vrygesel toe Britse eretitels kort na Uniewording aan Suid Afrikaners toegeken is. Hoewel aanvanklik teensinnig, ontvang hy in 1911 ’n baronetskap, 'n erflike titel, waarskynlik omdat hy gemeen het dat hy nie erfgename sou hê nie. Twee jaar later op 5 Februarie 1913 trou die 53 jarige vrygesel, nou lid van die adelstand, met 'n predikantsdogter Eileen (gedoop Magdalena Susanna) van Heerden, 30 jaar jonger as hy. Hul woon in "Ostende", Seepunt, wat Graaff 2 jaar tevore vir £3,000 aangekoop het.

  • Hy dien as Minister van Publieke Werke en Pos en Telegraaf Werke vanaf 1911 tot 1912.
  • Minister sonder Portefeulje vanaf 1912 tot 1913.
  • Dien as Hoë kommissaris in London vir die Unie van SA in 1914.
  • Hy was Minister van Finansies vanaf 1915 tot 1916.
  • Hy was lid van die Parlement vir die Unie van SA vanaf 1910 tot 1920.
  • Hy vergesel Louis Botha, na die 1ste Wêreldoorlog, na die Versailles vredes konferensie in 1919.
  • Hy was 'n goeie vertroueling van Gen. Jan Smuts en Winston Churchill.
  • Hy was lid van die "National Liberal Club".
  • Hy word Bevelvoerder van die "Cape Garrison Artillery Regiment".
  • Hy word lid van die Kaapstadse Kamer van Koophandel in 1887.
  • Op 14 November 18911 lê Graaf die hoeksteen vir die oprigting van die nuwe operagebou op die Parade, op die hoek van Darling en Parlement straat.
  • Hy was een van die mense wat verantwoordelik was vir die oprigting van 'n monument van Onse Jan op Kerkplein in Kaapstad.

In 1907 finansier Graaff en sy broer Jacobus die bou van die De Villiers Graaff Hoërskool op Villiersdorp. Sy kenmerkende huise is steeds oral in en om Kaapstad te sien. Sy strandhuis "Zonnekus" op Woodbridge Eiland, is gebou deur Italiaanse vakmanne en die materiaal is ingeskeep na SA gedurende die groot depressie.

As gevolg van swak gesondheid tree Graaff op 22 September 1920 uit die Kabinet. Sir David Graaff sterf op 13 April1931 twee weke na sy 72ste verjaardag aan beroerte in sy vakansiehuis Zonnekus. Sy oudste seun, De Villiers Graaff, erf sy Pa se titel.

Jan Smuts skryf later: "Yes, Sir David has passed away in a great business cloud, and I feel sorry for those who have to bring order into his affairs".

Sy boedel word gekonsolideer in een maatskappy nl. "Graaff Trust", een van die grootste grondeienaars in SA.

As gevolg van 'n geskil met Cecil Rhodes tydens die Jameson Raid, wat 'n goeie vriend van Graaff was, het Graaff sy seuns belet om ooit aansoek te doen om 'n Rhodes-beurs of een te aanvaar.

Hy stig ook 'n baronets fonds om voorsiening te maak vir die erfgename van sy titel wat sal strek tot die 10de baronet.

Behalwe sy politieke loopbaan was sy mees opmerklike nalatenskap die oprigting van die kabelspoor teen Tafelberg, waarin sy familie nog gedeeltelike besit het. Toe daar sprake kom dat daar 'n manier gevind moet word om op Tafel berg te kom is daar met besluite vorendag gekom om 'n pad tot op die berg te maak. 'n Sweedse ingenieur het met die voorstel gekom om ’n kabelspoor te installeer. Sir Pieter Graaff het dadelik saam met Sir Alfred Hennessy Graaff en Sir Ernest Oppenheimer die "Table Mountain Aerial Cableway Company” (TMACC) gestig om die konstruksie daarvan te finansier.


Anton Rupert - deur: Hennie van Dyk

“Wie nie in wonderwerke glo nie, is nie ’n realis nie. Om jou drome ’n werklikheid te maak moet jy ’n praktiese dromer wees; ’n realistiese optimis.”
– Anton Rupert


Gideon Scheepers / Montagu se forte - deur: Johan Stemmet

(1) Die rol van Gideon Scheepers óók in ons omgewing en (2) die ABO forte van Montagu en omgewing.